


Ek geniet julle geselskap en teenwoordigheid, rerig ek doen. Ek geniet die lukrake kuiers by die Koningin se kop en in die vuil kombuis. Ek voel oorweldig deur ons vinnige besluite om olierige kos te eet, voor die televisie te dans en om te sing terwyl amateuragtige Brazilianers op hul bokskitare tokkel. Ek geniet die trein trip oppad na ‘n nuwe bestemming wat ons self nie weet waarheen ons oppad is nie en ek geniet julle lus vir die lewe en laatnag gebeurtenis stories. Ek doen. Ek geniet julle.
, (KOMMA)
MAAR
ek kan nie die onrustigheid in my binneste keer wanneer ek dink aan ‘n verlore liefde erens oor die see. Ek sukkel om te slaap na ons vriendelike en opgewekte geselsies wanneer ek dan, as julle weg is, dink aan ‘n pouveer en ‘n skaapleeu. Ek grou aan my hart se kamers, na ons lieflike aand uit, wanneer ek op die toilet gaan sit en net die bruin toiletrol en ou ketting om my het vir geselskap. Ek skree teen my toonmure wanneer ek dink aan ‘n verlate bed en ‘n oorronde Hemelsgemaakte Skepping wat ek wil vasdruk tussen my arms.
Ek geniet julle almal en hierdie plek SO baie. Ek belowe ek doen, rerig.
,(KOMMA)
MAAR
ek kan nie wag vir die dag wat ek uit hierdie vervlakse, goddelose plek kan ontsnap na my oorspronklike hart wat in ‘n wit en groen woonstelblok vasgepen is!
Al wat ek oor het is om onrustig geduldig te wag met ‘n vriendin op die skoot en ‘n selfoon teen die oor.

Oral en erens is daar ‘n stukkie gif in jou kaak wat kners na vrot appels. Kners na vrot appels wat gevaarlik na wurms krap. Krap om wurms wat vernuf toon deur eterig rondom jou bruinhare krul. Krul jou hare ook rondom my benerige hande terwyl ek jou kakewang vir die laaste keer streel? Streel terwyl wurms vernuftig die vel van my sagte been afvreet. Vreet my vel wat sagkuns jou lippe ranSOENeer terwyl jou afguns my vergiftig. Vergiftig en vergeet my enigste kloppende hart wat vreedsaam na jou gegooi word in die skemer. In die skemer van jou skaduwee.
Ek is absoluut gaande oor Loftus Marais, nie net het die man ‘n woordspektrum van so oor die 50 miljoen nie, maar hy is geniaal en het ‘n ordentlike humorsin daarby
As julle almal daar buite dalk ‘n krokodilfonds wil hou namens my en sy bundel vir my wil koop en pos – julle is meer as welkom.





