
Koppie tee
Melanie du Toit
Ek gooi vir jou ‘n koppie tee in een van my dye.
Ek neem ‘n koppie en piering uit die boonste rak
en sit hom neer op ‘n vere kombers.
Ek loop 4 jaar die wêreld om opsoek na ‘n sakkie
met gekrummelde speserye van goeie herinneringe
‘n pakslae en 3 opgestopte poppies.
Ek swem tot in die middel van die see
om vir jou die suiwerste gekookte water te kry
wat daar geberg word in ‘n meer.
Ek vat 3 suikerriete toegevou in lemoen
en pars dit met toewyding en vertroue.
Ek neem ‘n kalf en maak hom self groot
ek voer hom liefde, trots en wysheid
en na 2 jaar skink ek vir jou melk wat uit
pienk goue spene bruis.
Ek vat my ringvinger en roer die stroom omgee.
Ek hardloop na die einde van ‘n Reënboog om
‘n goue skinkbord te gaan haal.
Ek kom maak jou wakker
“Opstaantyd, Tjoffeltjie, mamma het vir jou
‘n lekker koppie tee gebring.”
Geinspireer deur Desiré du Toit ‘n ma soos geen ander


