‘n Deurskynende “Ontnugtering” het my aangeval. “Ek het gedink” dat ek nou absoluut alleen is. Dat “Die Onverkrygbare” nou weggebêre in ‘n oester lê. Waar sy besig is om te verander in ‘n universele perel, sonder om “puberteit” weereens in die oë te staar. “Die beeldhouer” van haar nageslagte het ons almal seer agter gelaat. Waar haar “Ontwaking” nooit meer sal gebeur. Haar “vyf lewens” is nou verby en daar in haar “graf” koester sy woorde en gedagtes wat nooit uitgespoel gaan word nie.
Ek was alleen toe ek sarsies rooi beleef in my woonkamer wat uitstaar na Gordons. Ek het orals gesoek vir ‘n potlood wat erens dryf. Vir ‘n vel papier wat homself gelees wil hê. Vir ‘n stem wat sê: “Okay, dit was als ‘n grap, ek het julle almal gekierang!” Vir ‘n horlosie wat aangeroei kom en wys dat dit nou 1956 is. ‘n Hand wat smag na plat sand om woorde op neer te lê.
Ingrid Jonker, vir jou, gaan ek nog eendag gou, uit die baai kom grou. Want “Jy het vir my gesterf…”
L’art poetique
Deur: Ingrid Jonker
“Om myself weg te bêre soos ‘n geheim
in ‘n slaap van lammers en van steggies
Om myself te bêre
in die saluut van ‘n groot skip
Weg te bêre
in die geweld van ‘n eenvoudige herinnering
in jou verdrinkte hande
om myself weg te bêre in my woord ”
Jissie, Ingrid!! Los jy ons almal hier droogbek!!



