globe-joined-hands.jpg

Ek is jy wanneer jy hartseer is.  Ek is jy wanneer jy jou toetse dop en dronk is.  Ek is jy wanneer jy wegraak vir ‘n paar uur.  Ek is jy wanneer jy geld wil leen.  Ek is jy wanneer jy verras word met nog ‘n toegedraai emosie.

Ek is ek wanneer ek vir jou kwaad is.  Ek is ek wanneer ek stilstuipe kry en nie verstaan nie.  Ek is ek wanneer ek ongeduldig alleen wil wees.  Ek is ek wanneer ek jou puisies wil uitdruk.  Ek is ek as ek karring.

Ek is die boemelaar wat bedel.  Ek is die ongewaste koppie. Ek is die vuil kamer.  Ek is die enkelma met 5 kinders.  Ek is die ekonomie, die president, die inflasie, die goudprys.  Ek is petrol.  Ek is bekommernisse van geloof.  Ek is jy.

Ek is ons wanneer ek in een bondel op die bed lê.  Ek is ons wanneer ons in ‘n groot swembad swem.  Ek is ons wanneer ons burgers en chips afwurg.

Ek is te veel mense om te verstaan wat my brein vir my sê!

Ek is aarde op my skouers.