Ek vergeet soms van my bestaan en dan raak ek weg in die vreemde gevoel van alleen wees.   Net vir ‘n paar oomblikke vergeet ek van myself en bestaan net.  Net ‘n lyf wat eenkant sit en staan. Wat eenkant lê en lees, wat eenkant kos kook of ‘n sms tik.  Net vir ‘n oomblik vergeet ek van geld en klere. Net vir ‘n oogwink hou ek op met asem haal, hou ek op met kyk en fokus.  Net vir ‘n kort tydperk geniet ek niks en luister na niemand.

Net vir ‘n oomblik vat ek my hele siel na daar waar jy is en was en lag, ek loer oor jou skouer en verstaan die reuk van papier op jou nek.  Ek lees jou boek en blaai deur jou vingers met my woorde.  Ek loop deur jou hart en verander in jou sielsgenoot – vir ‘n oomblik.  Net vir ‘n oomblik verstaan ek jou gedagtes en weet dat jy elke oomblik my onthou. Ek eet die sonder-liefde-gemaak toebroodjie in jou maag en verstik aan ‘n pit.

Ek haal asem en my hart klop vinnig terwyl jy verdwyn in die verte. 

Jy bestaan nie, nie meer.