Gedigte


 

Ek vergeet soms van my bestaan en dan raak ek weg in die vreemde gevoel van alleen wees.   Net vir ‘n paar oomblikke vergeet ek van myself en bestaan net.  Net ‘n lyf wat eenkant sit en staan. Wat eenkant lê en lees, wat eenkant kos kook of ‘n sms tik.  Net vir ‘n oomblik vergeet ek van geld en klere. Net vir ‘n oogwink hou ek op met asem haal, hou ek op met kyk en fokus.  Net vir ‘n kort tydperk geniet ek niks en luister na niemand.

Net vir ‘n oomblik vat ek my hele siel na daar waar jy is en was en lag, ek loer oor jou skouer en verstaan die reuk van papier op jou nek.  Ek lees jou boek en blaai deur jou vingers met my woorde.  Ek loop deur jou hart en verander in jou sielsgenoot – vir ‘n oomblik.  Net vir ‘n oomblik verstaan ek jou gedagtes en weet dat jy elke oomblik my onthou. Ek eet die sonder-liefde-gemaak toebroodjie in jou maag en verstik aan ‘n pit.

Ek haal asem en my hart klop vinnig terwyl jy verdwyn in die verte. 

Jy bestaan nie, nie meer.

Advertisements

                              

Ek is absoluut gaande oor Loftus Marais, nie net het die man ‘n woordspektrum van so oor die 50 miljoen nie, maar hy is geniaal en het ‘n ordentlike humorsin daarby (boekbekendstelling -i-)  . “Staan in die algemeen nader aan vensters” is sy debuut digbundel en omdat ek hier aan die anderkant van die wereld sit, kan ek ongelukkig nie die boek in die hande kry nie, maar is elke nou en dan op Litnet en Youtube om my Marais-gedigte voeding vir die dag in te kry.

 

Ek is een van die min gelukkiges wat ‘n vae verbintenis het aan die digter van die eeu.  Dis my beste vriendin, Rozel du Toit, se nefie.  Ek het tot die slotsom gekom- omdat ek en Rozel dieselfde van het, du Toit, dat Loftus Marais op ‘n vreemde manier ook familie van my is.  Alhoewel ek hom nog nooit ontmoet het nie, maar strengesproke indirek ontmoet het deur Rozel (alias die Roos), kan ek  wel die stelling maak – Loftus Marais is my familie en erens in my gene is daar ‘n bloedselletjie van sy intellek en kreatiwiteit en Awesomeness wat maak dat ek dalk eendag deur ‘n amateuragtige blogger, soos myself, gesien kan word as Uber-Amazing!

As julle almal daar buite dalk ‘n krokodilfonds wil hou namens my en sy bundel vir my wil koop en pos – julle is meer as welkom.

Groete en baie liefde

Jou grootse bewonderaar

Melanie/Karbinna du Toit

Jis, maar die mense hier kan raas.

Vrek, kan hulle bietjie kalmer?

Geskree, geproes, gehoes, gespoeg.

Griet, maar hulle hou nie op met raas.

Damnit, there’s no place to talk Afrikaans.

gekou, geskets, gekletter..

Krits, ek voel verlore.

Shit, hulle stink na vrot woorde.

Praat op kranksinnige note.

HUH?

Sjoe, maar my kop raas.

Ek kort ‘n vakansie.

‘n Vakansie in Afrikaans!!!

Hieropvolgend is een van die mooiste gedigte wat nog ooit sy letters vir die wêreld gewys het.  As enigeen van julle al in hierdie situasie was, hoop ek jy verstaan.

MeublementEttienne van Heerden

sê my dat woorde nie tel nie

dat dit nie saak maak nie

dat die rooi byle van ons monde

val op dowe stompe          

ek ruik die speserye

van gesplete hout en tussen my vingers

krummel die saagsels: jaarringe

versplinter, bas breek

en die boom word in sy grein gewond;

wortel en tak uitgeroei

en die hompe hout,

‘n tak, ‘n mik

begin groei tot dooie meubels:

laai, stoelrug, vatsel,

kasdeur en rak, en sê vir my

dat woorde nie tel nie

dat in my kamer met die meubels, die stoel,

die gepote tafel, die hol kas wat luister,

die rak wat gryns, sê my daar het

onder die plankvloer eens ‘n boom gegroei?

Koppie tee

Melanie du Toit

 

Ek gooi vir jou ‘n koppie tee in een van my dye. 

Ek neem ‘n koppie en piering uit die boonste rak

en sit hom neer op ‘n vere kombers.

Ek loop 4 jaar die wêreld om opsoek na ‘n sakkie

met gekrummelde speserye van goeie herinneringe

‘n pakslae en 3 opgestopte poppies.

Ek swem tot in die middel van die see

om vir jou die suiwerste gekookte water te kry

wat daar geberg word in ‘n meer.

Ek vat 3 suikerriete toegevou in lemoen

en pars dit met toewyding en vertroue.

Ek neem ‘n kalf en maak hom self groot

ek voer hom liefde, trots en wysheid

en na 2 jaar skink ek vir jou melk wat uit

pienk goue spene bruis.

Ek vat my ringvinger en roer die stroom omgee.

Ek hardloop na die einde van ‘n Reënboog om

‘n goue skinkbord te gaan haal.

Ek kom maak jou wakker

 

“Opstaantyd, Tjoffeltjie, mamma het vir jou

‘n lekker koppie tee gebring.”

 

Geinspireer deur Desiré du Toit ‘n ma soos geen ander

In tweegesprekke onder ‘n peerboom

Lê ‘n tarentaal eiers terwyl ‘n pit droom

oor

soet, swart kewers en suur asyn

oor

pap trap moerbeie wat nie daar hoort

en

klein Katryn Kewers enig in hul soort

oor

wortels wat net 10 duim groei

en

 feëtjies wat aan hul stingels vasboei.

Hier onder sit sy met ‘n swartson hoed

terwyl almal wat skynheilig verby stap haar groet.